SuperSportSchools Rugby | Schools Rugby

Diamonds trek Oloff Bergh nader om sportprogram hupstoot te gee

By Willem Louw , in News Rugby | News , at 2 November 2023

OLOFF BERGH

Hoërskool Diamantveld het met die aanstelling van Philip Molnar en Oloff Bergh ‘n hele paar tree vorentoe gegee om hul rugbyprogram ‘n hupstoot te gee.

Kyk weer ná die 2023 seisoen op SuperSport Schools – Registreer nou.

Molnar het reeds ‘n rykdom van ervaring by sy alma mater, Boland Landbou, verwerf. Hy is sedert 2018 betrokke by die skool en sedert 2021 as hoofafrigter van die eerstespan.

Bergh het in 2011 by Boland Landbou as sportorganiseerder begin en is in 2017 as Hoof van Sport aangestel is.

Sy betrokkenheid as hoofafrigter van die Westelike Provinsie XV-tal se span op die Cravenweek oor die afgelope twee jaar getuig van sy toewyding aan sportontwikkeling.

“Na 12 goeie jare by Boland Landbou dink ek dis tyd vir my om êrens anders bietjie ‘n verskil te probeer maak, en die mense van Kimberley en die Noord-Kaap is vriendelik en mens kan sien daar is ‘n hongerte na sukses by die skool,” vertel Bergh oor sy besluit om die skuif na die Diamantstad te maak.

Molnar beaam dat hy ook gerus voel oor die keuse, “Dit is iets wat die Here duidelik oor my pad gestuur het en op my hart gedruk het al sedert Maart toe Diamantveld met my begin gesels het,” sê Molnar.

Hy is reeds besig om voor te berei vir die komende seisoen en was verlede week al in Kimberley om ‘n bosberaad met die ander afrigters te hou.

“Die eerste doel is om ‘n kultuur te skep onder die afrigters dat ons almal saam uit een mond praat en mekaar bystaan.”

“Dit gaan nie oor my, of oor Oloff of enige ander afrigter of speler nie, dit gaan oor Diamantveld-rugby. As ons as ‘n afrigtingspan saam kan staan sal die kinders ook daardie kultuur aanleer,” sê Molnar.

“Hier is ‘n hongerte vir sukses, nie net in terme van die rugby of die sport nie, maar in die hele bestel van die skool. “Ons missie is natuurlik om die voorste Afrikaanse skool in die Noord-Kaap te wees,” sê Bergh.

Nog ‘n opwindende ontwikkeling by Diamantveld is dat landboustudies van volgende jaar af as ‘n vak aangebied sal word.

“‘n Groot deel daarvan is natuurlik om kinders op die dorp te probeer hou,” sê Bergh.

Molnar sien uit na die komende rugbyseisoen en die nuwe uitdagings. Hy onthou sy ervaring van die Diamantveld spelers se gesindheid, selfs in moeilike omstandighede en sien uit na die kans om daardie veggees te help ontwikkel.

“Toe ons as Boland Landbou hierdie jaar teen hulle gespeel het het ons in die eerste helfte die oorhand gehad, maar Diamantveld het in die tweede helfte teruggekom en nooit ophou speel nie. Dit is die tipe “fight” waarmee mens kan werk.”

Die  rugbyprogram maak ook gebruik van Pieter Bergh, hoofafrigter van die Griekwas. “Hy’s ‘n konsultant vir ons en hy het reeds begin werk met van die kinders en afrigters”, vertel Molnar.

Die nuus kom kort nadat Diamonds die Noord-Kaapse legende, Eddie Lightfoot, as die Hoof van Rugby aangekondig het. Lightfoot is al ‘n held in Suid-Afrikaanse skolerugby sedert 1979, toe hy HTS Kimberley as kaptein en agtsteman na ‘n historiese oorwinning oor Grey-kollege aangevoer het.

Lightfoot is die ouer broer van die voormalige Junior Springbok en SA Skole-haker, Wessel Lightfoot. Wessel was ‘n lid van Diamantveld se 1980-span wat een van die beste in dié skool se geskiedenis is.

Vanaf 2019 rig Eddie Diamantveld se o.16 span af, wat hierdie jaar die Griekwa-liga verower het.

Alles dui na ‘n groot poging om die Diamonds ‘n hupstoot te gee vir die komende seisoen en weer ‘n trotse kultuur rondom die eerstespan te skep.

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!